DIE GESKREWE WOORD IS VERRYKEND...
  Onlangs loop my gedag-tes ver paaie terug in die verlede. My vrou en ek was nog jonggetroudes met baie ywer en entoesiasme in ons eerste klein gemeentetjie op 'n plattelandse, Oos-Kaapse dorpie. Ons was gereed en bereid om alles in die stryd te werp om die Koninkryk van God te bevorder.

Ons het elke maand met baie moeite 'n gemeenteblaadjie uitgegee. Ons het 'n ou Gestetner-afrolmasjien gekry en my vrou het op 'n ou Olivetti-tikmasjien wasvelle getik en prentjies geteken. Dikwels moes sy dit oor en oor doen, omdat die a's, e's en o's gaatjies gemaak het en dan kon ons daardie wasvelle nie gebruik nie. Dan het ons tot laatnag gelag en gewerk sodat ons die Sondagoggend die blaadjie gereed kon hê! Die papier was A4-grootte wat ons dubbel gevou het om 'n blaadjie van A5-grootte te vorm. Ons het net 'n klein krambindertjie gehad en moes met moeite die krammetjies deur die papier druk, dit omvou en dan self die krammetjies buig om die blaadjie vas te hou!

Op 'n dag het ek 'n boodskap geskryf oor die begrip "bekering". In Afrikaans is dit net bekering, maar in Grieks is daar meer woorde om bekering te beskryf en daar is ook 'n verskeidenheid konnotasies (bybetekenisse) wat die essensie van die woord baie omvangryk maak. Ek het hierdie ryk betekenisse van die Griekse woorde verduidelik.

'n Dame van 'n naburige dorp het ons dienste bygewoon. Sy het 'n haarsalon op daardie gewilde vakansiedorp by die see gehad. Sy het gereeld 'n paar van ons blaadjies geneem en in die haarsalon geplaas. Klante kon dus gratis blaadjies neem. Ons het nooit kon droom hoe vêrreikend die gevolge hiervan sou wees nie...

Een Maandagoggend skakel 'n ouerige dame van die naburige dorp en vra dat ons vir haar moes kom bid. 'n Afspraak is gereël. Terwyl ons besig was om te gesels, wys sy vir ons hoe haar bene geaffekteer is deur 'n motorongeluk. Wanneer sy op 'n stoel sit met die knieë teen mekaar, was die een been merkbaar heelwat korter as die ander een. Dit het baie pyn veroorsaak. Ons het toe vir haar gebid, en God het onmiddellik 'n wonderwerk verrig! Die korter been het uitgeskuif, en sy was genees!

Hierna het sy vir elke mens wat sy geken en raakgeloop het, vertel van die wonderlike genesing wat God vir haar bewerkstellig het. Baie mense het ons toe begin kontak en hulle nood en ander behoeftes aan ons bekend gemaak, sodat ons vir hulle kon bid. Hierdie selfde dame het op 'n dag geskakel en dringend gevra dat ons vir 'n vriendin van haar wat op sterwe gelê het in 'n ander dorpie - sowat 'n uur en 'n half se ry van ons af - gaan bid. Sy pak toe 'n mandjie met eetgoed, en ek en sy het daarheen vertrek.

Toe ons daar in die hospitaal kom, lê dié dame daar, terminaal met kanker. Natuurlik het ons vriendin wat my soontoe geneem het, verwag dat sy gaan opstaan uit daardie siekbed!

Maar God het menigvuldige maniere om te werk. Híérdie dame met kanker, so het ek later verneem, was 'n voorslag in daardie gemeenskap. Sy was oral in welsynsorganisasies betrokke, so ook in haar kerk. 'n Ware juweel wat ander mense gedien het, en daarom baie geliefd en gewild.

Voordat ek toe vir hierdie vreemdeling bid, wou ek eers seker maak hoedanig haar verhouding met die Here was. Ek vind toe uit dat sy nog nooit werklik vir Jesus in haar lewe ingenooi het nie! Sy het nie met sekerheid geweet wat dit beteken om 'n kind van God te wees nie. Sy het Hom slegs met kopkennis gedien. Sy was ook nie gereed om te sterf nie.
Dit was my voorreg om aan haar die weg van saligheid te ver-duidelik. Sy het dit begryp en toe ons bid, het sy haar lewe aan Jesus oorgegee! Sy het 'n ware wedergebore kind van God geword volgens Johannes 1:12-13: "Maar almal wat Hom (Jesus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is."

Daardie vrou het nie gesond geword nie. Nee. Maar sy het haar saak met God geskik op daardie dag, en twee weke later is sy oorlede. Wat 'n wonderwerk het God in haar lewe gedoen! Hy het ons betyds na haar toe gestuur sodat sy die ewige lewe saam met Hom kon binnegaan!

Kort na hierdie gebeure het 'n ander dame, ook as gevolg van ons blaadjies, met ons in aanraking gekom. Sy was ‘n oud-onderwyseres. Sy het 'n huis op die strand gehad wat uitgekyk het oor die see. 'n Hoogs intelligente vrou.

Sy wou baie graag gesels oor geloof en bekering en wou meer kennis daaroor inwin. As jong-man wat kort vantevore uit 'n Teologiese Kollege gekom het, benader ek die gesprek breed-voerig met Bybelse verklarings. Dit blyk egter dat ek nie werklik tot haar deurgedring het nie. Later gaan haal ek nog meer Bybels en Teksuitgawes met kommentaar om hierdie saak teologies te probeer verhelder.

Terwyl ek studeerkamer toe is, het sy en my vrou aan die gesels geraak. Toe ek weer die vertrek binnekom, sê die dame sy ver-staan nou presies wat geloof is en ek hoef dit nie verder aan haar te verduidelik nie. Ek was verstom! Wat het dan ondertussen gebeur?

Hier het ek 'n groot les by my vrou geleer. Sy was óók 'n onderwyseres en het geglo dat om iets suksesvol aan iemand oor te dra, dit soos 'n koppie moet wees wat jy aan die oor neem om jou tee te drink: Jy moet vir die mens iets prakties gee om aan vas te hou en sodoende die inhoud makliker in te neem. Nie altyd die teologiese kopstukke wat maar baiekeer net 'n klomp teorie is nie!

Sy het toe ek uit die vertrek was, die volgende voorbeeld aan die dame voorgehou: Sy het 'n mooi pen wat op die tafel gelê het na hierdie dame uitgehou en gevra of sy dit graag sou wou hê. Die dame het bevestigend geant-woord. My vrou sê toe dat sy dit kon neem.

Toe die dame dit gevat het, vra my vrou aan haar wanneer dit haar eiendom geword het. Hierop het sy geantwoord: "Toe ek dit geneem het." En dadelik het sy ook gesnap dat wanneer jy die geskenk - naamlik die ewige lewe wat God jou gee in en deur Jesus Christus - met geloof aanneem, word dit dadelik jou eie! En NET DAAR word sy toe wedergebore, en vind sy seker-heid van geloof in Jesus Christus!

Liewe leser, dink 'n bietjie na oor al hierdie gebeure wat hier beskryf is (en daar is nog baie meer om op te noem), maar onthou dat al hierdie wonderlike gebeure begin het by 'n een-voudige, klein gemeente-blaadjie wat ons met moeite uitgegee het.

Vandag is ons baie dankbaar teenoor ons Hemelse Vader dat ons die Goeie Nuus / Good News aan mense van twaalf dorpe beskikbaar kan stel en ook via ons webtuiste. Soos iemand eendag gesê het: "One drop of ink makes thousands think." Mag ons op hierdie beskeie wyse dalk help om duisende lesers te laat nadink oor die lewe! Belang-riker nóg - mag diegene wat Jesus nog nooit aangeneem het as hul persoonlike Saligmaker nie - dit vandag nog doen! Dit is die belangrikste besluit wat 'n mens ooit kan neem en die vrede en geluk wat volg, is onbeskryflik!
© Dr. J J Venter

Indeks     Index